The following post is written in Afrikaans because it is about a sensitive Afrikaner social problem. If you do not understand Afrikaans, just delete it. The next one will be in English again.
Het julle al gesien hoe dit lyk as ‘n bejaarde ou mens in sy of haar eie ontlasting lê en doodgaan van bedsere en honger?
Het julle al opgemerk hoe dikwels mens in die media ‘n pragtige jong model of aktrise sien wat omring is deur vet en gesonde jong weeskindertjies? Julle het seker ook al opgemerk dat mens dikwels politici sien wat kinderhuise besoek of skenkings aan kinderhuise oorhandig. Selfs ons liewe goed versorgde Madiba is steeds op sy hoë ouderdom betrokke by die versorging van kindertjies.
Ons het ook duisende organisasies wat geld insamel vir kanker, die blindes, die serebraal verlamdes en selfs vir die kerk, maar weet julle van enige organisasie wat geld insamel vir die bejaardes. O daar is, maar julle weet nie daarvan nie omdat daar so min is en daar is nie so min omdat daar nie ‘n behoefte is nie. Nee, daar is so min, indien enige, omdat min mense hulle steur aan die lot van bejaardes in verlate staatsubsidielose, geldlose ouetehuise.
Baie mense sorg baie goed vir hulle bejaarde ouers, maar baie mense “dump” hulle ouers in ouetehuise en verbreek alle kontak met hulle. Veral as daar niks te erf is nie. Geseënd is die mense wat goed omsien na hulle ouers, want ‘n volk wat nie sy oues se hulpeloosheid en nood erken nie, is gedoem. Die probleem is egter dat as ons na ons eie ouers omsien dink ons sommer vanselfsprekend alle mense doen dit. Niks kan verder van die waarheid wees nie.
Sommige mense se houding is eenvoudig totaal apaties en iemand het eendag vir my gesê; “Ek kan nie ander mense se ouers ook versorg nie.” Wie moet dit dan doen? Die staat doen dit nie. “Dit is nie my probleem nie” het hy toe gesê. Ek het vir hom gevra of hy enigiets vir liefdadigheid doen en sy antwoord was ‘n heftige “Ja ek gee elke maand geld vir die kerk.” “Wat doen die kerk met die geld?” het ek gevra. Hy kon nie sê nie, want hy weet nie. Ek weet, want dit is ‘n antwoord wat ek jare gelede gesoek en gekry het en dit het my apatiese houding heeltemal verander.
‘n Paar jaar gelede het ek gehoor dat ons kerk hulle ouetehuis in Johannesburg moes sluit vanweë ‘n gebrek aan fondse. Dit was vir my ‘n groot skok, want my tiende wat ek elke maand aan die kerk gegee het was amper genoeg om die ouetehuis aan die gang te hou. Waar gaan die gemeente se bydraes dan heen? Salarisse van werknemers, onderhoud van geboue, water en ligte ensovoorts. Klink dit soos liefdadigheid? Wat my aan betref kan ons onder ‘n boom kerk hou, maar om die ouetehuis te sluit terwyl die kerk een van die grootste eiendombesitters in die land is en om eerder die kerkgebou te behou vir die enkele mense wat kerk toe gaan het nie vir my sin gemaak nie. Meeste kerke in die land is nie eens meer halfvol op ‘n Sondag nie. Verkoop dan eerder helfte van die geboue en maak eerder nuwe ouetehuise oop in plaas van dit te sluit.
Die kerke redeneer egter nie so nie en dit was waar ek en Vanessa se passie vir ouetehuise ontstaan het. Dit was ons “wake-up” call. Ons het betrokke geraak en dit was skokkend wat ons ontdek het. Soos sommige mense troeteldiere wat hulle nie meer wil hê nie by die Dierebeskermingsvereniging gaan aflaai, laai party mense hulle ouers by ouetehuise af en vergeet van hulle. Die staat sorg lankal nie meer vir ouetehuise nie en as die kerk nie vir hulle sorg nie, sorg niemand vir hulle nie. Sommige ouetehuise het nie geld vir basiese dinge soos kos, personeel, komberse, elektrisiteit ensovoorts nie. Dan praat ek nie eens van gordyne, meubels en verf nie.
In sommige tehuise gaan ou mense dood van swere omdat hulle lang tye in hulle eie ontlasting moet lê. Ek en Vanessa het al dikwels gery na die naaste apteek en al hulle doeke vir volwassenes opgekoop. Die probleem is egter wie gaan die doeke gereeld aansit en omruil as die ouetehuis nie vaste personeel kan bekostig nie. Ek glo ook vas baie verswakte ou mense sterf van honger omdat daar niemand is om hulle te voer nie. Die kos staan op die bedkassie en word dikwels onaangeraak weggeneem.
Mense, hierdie is die harde werklikheid. Jy sal nie in die glans tydskrifte “glamorous models” of gladdebek politici sien poseer by bedlêende verhongerde ou mense in afgeleefde ouetehuise wat nie eens gordyne kan bekostig nie. Die feit dat ons nie oor hulle praat nie, beteken egter nie hulle bestaan nie en die ergste van alles is ons het ‘n baie beter kans om almal oud te word as om kanker te kry of ‘n weeskind te word.
Ek en Vanessa het jare gelede die Treoc Stigting begin en die Stigting se hooftaak is om na behoeftige ouetehuise om te sien. Dit kan nogal pret wees ook. Verlede maand het Rene Sceepers, die Treoc Stigting se bestuurder, met ‘n hele regiment van vrywilligers opgeruk na die Rus ‘n Bietjie ouetehuis in Springs waar hulle die Altzheimer afdeling met verf geborg deur Jack’s Paint in Kempton Park, geverf het en met nuwe beddegoed en gordyne toegerus het. Die mense wat saam met haar was kon nie uitgepraat raak oor die lekker samesyn en die “feel good experience” wat so ‘n betrokkenheid tot gevolg het nie. Vir die oumense was dit die hoogtepunt van die jaar. Hulle het jare laas so baie aandag van so baie meelewende jong mense ontvang en soms is die aandag alleen meer werd as al die aardse goed.
Ek het hierdie artikel in Afrikaans geskryf, want ek dink dit is waar die grootste behoefte tans is. Van al die bevolkingsgroepe in die land is die Afrikaanse gemeenskap na my mening die een wat die swakste na sy ou mense omsien. Die groepe wat die beste omsien na hul ou mense is die Joodse en Swart gemeenskappe. Wat het verkeerd gegaan met ons Afrikaners? Hoekom kan ons dit nie ook doen nie? Jammer as ek julle omkrap met hierdie stellings, maar al wat jy moet doen om dit te bevestig is om jou oë oop te maak en te gaan kyk wie ly vandag die meeste in die ouetehuise. Word wakker! Daar is nie meer ‘n Afrikaner regering wat vir hulle sorg nie!
Ons weet dit is nie vir almal moontlik om aktief betrokke te raak nie, maar ‘n R30 per maand debietorder is beslis moontlik. As ou mense dit van hulle karige pensioen kan afknyp kan meeste mense wat hier lees dit ook doen.
As u weet van ‘n ouetehuis wat hulp nodig het skakel ons asseblief dadelik en belangrikste van alles is dat ons fondse nodig het. ‘n Donasie van slegs R30 per maand per debietorder is al wat ons vra. Skakel asseblief vir Rene Scheepers by 071 940 9411 of 012 991 1075 as u betrokke wil raak.
Asseblief!
Groete
Coert Coetzee - Voorsitter: Treoc Groep